Die geologiese tydskaal is ’n indeling van die geskiedenis van die aarde in geologiese tydperke. Dit word bepaal deur die ouderdom van rotse.
Die geologiese tydskaal word meestal deur aardwetenskaplike (soos geoloë, paleontoloë, geofisici, geochemici en paleoklimatoloë) gebruik om die tye van en verhoudings tussen gebeure in die geologiese geskiedenis te beskryf. Die tydskaal is opgestel deur middel van die bestudering van rotslae en die waarneming van die verhoudings tussen hulle, asook die kenmerkende verskynsels soos litologieë, paleomagnetiese eienskappe en fossiele.
Verskeie tydskale is al opgestel, maar in die geologie word die laaste weergawe gebruik van die Internasionale Kommissie oor Stratigrafie (IKS), 'n liggaam van die Internasionale Vereniging van Geologiese Wetenskaplikes, waarvan die hoofdoel[1] is om globale chronostratigrafiese eenhede van die Internasionale Chronostratigrafiese Kaart[2] te definieer. Dit word weer gebruik om die verdeling van geologiese tyd te definieer. Die chronostratigrafiese verdelings word op hulle beurt gebruik om geochronologiese eenhede te definieer.[2]
Terwyl sommige ouer publikasies dikwels alternatiewe name of daterings van bo- of ondergrense van tydperke gebruik,[3] volg die tabel van geologiese tyd in dié artikel die riglyne van die IKS.[1][4] Dit volg heel onder.